Hierdie artikel is deel van Vryheid Media se Paasfees-reeks. Ons delf nie bloot in die historiese betekenis van Christus se opstanding nie, maar kyk hoe daardie waarheid vandag weer vlees word in die lewe van gelowiges. Dis ’n roeping om wakker te word, om weer op te staan.
Die Kerk van Christus het deur die eeue heen tussen twee pole beweeg: die gemak van aanpassing en die las van waarheid. In tye van vrede was dit gerieflik om te swyg; in tye van krisis was dit noodsaaklik om te spreek. Vandag se stiltes is die storme van môre. Die Westerse Kerk het oor die afgelope dekades haar roeping verruil vir aanvaarding, haar profetiese stem laat vaar ter wille van die wêreld se goedkeuring.
Maar nou, soos in die dae van Elia, begin daar ’n grom opklink. Dis die mense self, die gewone kerkgangers wat begin grom. Want selfs hul geloof, die eenvoudige waarheid waarvoor hulle staan, word selfs deur die kerk onderdruk. Hierdie verskynsel sien ons regoor die wêreld ontvou. Met Paasfees het ons opnuut mense gesien wat hul geloof met ongewone aggressie en dringendheid vier asof iets in hulle gees opgestaan het wat nie langer kan swyg nie.
Wat ons wêreldwyd sien gebeur, sien ons ook in ons eie volk weerspieël. Die Afrikaner en die Kerk is twee lyne op dieselfde grafiek
Die verval van ons mense is nie bloot van politieke of ekonomiese aard nie, dit is van ’n diep geestelike aard. Soos die Westerse Kerk, het die Afrikaner sy roeping versaak toe hy sy rug op die ewige waarhede van die Skrif gekeer het. Waar standvastigheid nodig was, het ons pragmaties geraak. Waar geloof moes staan, het ons begin hoop op aanvaarbaarheid.
Ons het ons plek in die wêreld probeer koop deur in te pas, en toe onsself uitgepas. Ja, ons het grond verloor. Maar veel erger: ons het die waarheid verloor, net soos die kerk. En sonder waarheid kan geen volk of geloof bly staan nie.
Tande groei eers in stilte
In Europa sien ons hoe gewone Christene begin opstaan vir wat regmatig aan hulle behoort. Want as jy dit nie gebruik nie, gaan jy dit verloor. Europa is reeds in verval, en in sommige lande word mense selfs beboet omdat hulle in die strate bid. Dít is waarom daar ’n opstanding aan die broei is. ’n Opstanding in geloof, gedra deur gewone mense, terwyl die kerke doodstil bly omdat hulle nie ander wil aanstoot gee nie. Hulle kies eerder goedkeuring as waarheid, stilte bo getrouheid.
Suid-Afrika ly moontlik aan dieselfde siekte, maar is net ’n paar jaar agter die res van die wêreld. Ook hier begin ons sien hoe Christene met agterdog — selfs met afsku — bejeën word. Die denke van die wêreld skuif vinnig, en dit is slegs ’n kwessie van tyd voordat die Christelike geloof openlik gemarginaliseer, belaglik gemaak en uiteindelik uit die openbare ruimte verban word. In Europa, Australië en ander sogenaamde “eerste wêreld”-lande word daar toenemend op Christene neergekyk, asof geloof iets agterlik of onwetenskaplik is wat nie meer in die moderne samelewing tuishoort nie.
Ons is nie alleen op hierdie pad nie
Die neiging tot morele verval is nie uniek aan ons volk nie. Elke nasie wat sy wortels in God verlaat, word uiteindelik meegesleur in die maalstroom van verwarring en waardeverlies. Maar God laat Hom nie onbetuig nie. Wanneer mense hul gesigte weer na Hom draai, gebeur iets bonatuurliks: daar verrys geslagte wat nie skaam is vir die waarheid nie, wat durf staan, selfs al staan hulle alleen.
Die keuse lê voor ons: óf ons dryf saam op die stroom van ideologiese kompromie, óf ons klim terug op die rots van waarheid, al staan ons alleen.
Ons staan nie net voor ’n kruispad as volk nie. Dit is die gewone mense, die gelowiges in die banke en huise, wat nou moet kies. Die stemme van die wêreld roep ons na gemak, kompromie en stilbly. Maar daar is ’n ander roepstem: die fluistering van waarheid, die grom van die gewone kerk mens wat weer ontwaak.
Die keuse lê by ons, die mense. Laat ons nie wag vir strukture om te verander of vir leiers om vorentoe te tree nie. Dit begin in huise, in harte, en in God se stem. Die wêreld is besig om te verander maar wanneer alles wankel, bly Christus die rots. Mag hierdie uur die oomblik wees waar gewone mense buitengewone moed wys – nie tot eie roem nie, maar sodat die Lig weer helder in die duisternis kan skyn.
Geseënde Paasfees!
Discover more from Vryheid Media
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
