In ’n tyd waarin Westerse beskawing homself op die altaar van globalisme wil opoffer, is dit verfrissend – ja, amper skokkend – om te sien hoe ’n Afrikanergemeenskap met soveel trots en doelgerigtheid ’n diplomatieke voetspoor in Europa vestig. Orania se mees onlangse skakeltoer na Europa was nie bloot ’n kulturele uitstappie of vakansie met politieke pretensies nie, maar ’n doelbewuste poging om internasionale alliansies te bou, die soort bande wat ons volk in die toekoms kan help red.
Die Orania Beweging, saam met die Orania Ontwikkelingsmaatskappy, die Dorpsraad, OVR en Bo-Karoo Opleiding, het Europa se gange betree met ’n boodskap van eerbare verset en kulturele selfbeskikking. Dit was ’n waardige vertoon van hoe ’n klein volk, vasberade om self te bou en self te regeer, sy pad terug na erkenning begin sny.
Op die terrein van konstruksie en opleiding het die Orania-afvaardiging die wêreld se grootste konstruksieskou bygewoon – ’n laboratorium van tegnologiese vooruitgang waar outomatisering en robotika die nuwe modewoorde is. Maar waar die post-nasionale elites hierdie tegnologieë sien as geleenthede om arbeid oorbodig te maak en miljoene in werkloosheid te dompel, kyk Orania met ander oë. In plaas daarvan om die mens te vervang, soek Orania na maniere om tegnologie as werktuig in diens van die gemeenskap te gebruik. Waar elke burger nie net ’n verbruiker of ‘data-punt’ is nie, maar ’n bouer.

Europese universiteite, kolleges en tegniese instellings is met doelgerigte erns besoek – want om ’n volkstaat te bou, vra veel meer as bakstene en sement. Dit vra vars denke. Dissipline. En ’n nuwe soort intelligentsia wat weet hoe beskawings gevorm én beskerm word. Vandag lê die strydlyn nie meer in skanse en loopgrawe nie, maar in tegnologiese stelsels, laboratoriums, rekenaarskerms en die gees van die intellektueel. Om werklik vry te wees, moet ons nie net grond terugwen nie, ons moet dit geestelik, kultureel en akademies herbeset.
Sonder ’n nuwe elite jong mense wat nie net hul hande nie, maar ook hul koppe gebruik; wat tegnies begaafd én diep kultuurbewus is, is daar geen herlewing nie. Sonder herlewing, geen voortbestaan. En sonder voortbestaan… geen volk.
Een van die mees betekenisvolle ontmoetings het in Suid-Tirool plaasgevind – ’n streek wat self al die prys van kulturele onderdrukking betaal het, maar wat desondanks vasgehou het aan sy identiteit en strewe na selfstandigheid. Dit is juis dáár, in die provinsiale parlement, waar die Orania-afvaardiging ’n formele aanbieding gelewer het.
Daar is geen versagting gebring oor die werklikheid van post-1994 Suid-Afrika nie. Met duidelikheid en sonder om doekies om te draai, is die harde feite aan Europese leiers gestel: die uitsiglose en onregverdige posisie waarin Afrikaners hulself vandag bevind, die sistemiese diskriminasie wat dag ná dag teen ons taal, kultuur en ras gepleeg word, en die manier waarop ’n hele gemeenskap—deur Orania—’n lewensvatbare, selfstandige antwoord begin vorm het. Boonop is dit beklemtoon dat internasionale steun nie net ’n vriendelike gebaar sou wees nie, maar ’n geopolitieke noodsaaklikheid vir die oorlewing van ’n beskawing wat andersins op die rand van uitwissing gedruk word.
Hierdie temas is later met selfs meer diepte en erns aangevoer in gesprek met Vlaams Belang – daardie seldsame politieke beweging in Europa wat nog die moed het om sonder skaamte oor identiteit, grense en volkere se reg op voortbestaan te praat. Waar ander in die knieë sak voor die altaar van politieke korrektheid, staan Vlaams Belang regop. Parlementslid Tom van Grieken het die Orania-afvaardiging nie net hoflik ontvang nie, hy het met erns geluister, vrae gestel, en belangriker nog, die boodskap begryp.
Wat hieruit voortspruit, is nie net simboliese steun of hoflike geselskap nie, dit is die begin van werklike netwerke van samewerking. Dít is die soort vennootskappe wat ’n volk se droom van vryheid ’n werklikheid maak.
Want –soos klip in die Karoo gegraveer – wys Orania se Europese toer dit onomwonde;
Selfstandigheid is nie ’n nostalgiese droom nie, maar ’n lewende werklikheid in wording.
’n Pad wat nie agtertoe lei nie, maar vorento – na ’n toekoms wat óns self vorm, met geloof, arbeid en visie.
Die saad is geplant. Die netwerke groei. En die wêreld begin luister.
Die volk wat weier om te buig, het weer begin bou.
Discover more from Vryheid Media
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
