Donald J. Trump is terug in die Withuis, en sy eerste 100 dae van sy tweede termyn was allesbehalwe stil of voorspelbaar. In ’n wêreld wat worstel met politieke onsekerheid, ekonomiese spanning en ideologiese verdeeldheid, het Trump weer soos ’n stormwind die globale status quo uitgedaag, en in die proses die politieke aarde laat skud. Hy het sy termyn afgeskop deur staatsorgane drasties te besnoei. Met Elon Musk as hoof van die nuutgestigte Department of Government Efficiency het Trump begin snoei en sny, omdat hy voel dat die administrasies volgens hom die gewone burger verlam. Federale agentskappe is afgeskaf, regulasies is bevries, en die hele federale staatsdiens is wakker geskud.
Op die immigrasiefront het hy vinnig sy stempel afgedruk met die implementering van ideologiese sifting, massa-deportasies en verskerpte grensbeheer. Vir konserwatiewes was dit ’n verligting, ’n terugkeer na wet en orde. Vir sy kritici was dit ’n morele ramp en ’n aanval op die kern van Amerika se inklusiewe ideaal. En tog het Trump geen verskoning gemaak nie, hy voer uit waarvoor hy gekies is: beskerming van Amerika en haar burgers.
Internasioneel het hy sy befaamde “America First”-aanpak net verder verdiep. Hy het met harde hand internasionale ooreenkomste begin hersien, tariewe teen Sjina versterk, die NAVO aan sy skuld herinner, en selfs Groenland se strategiese waarde weer op die tafel gebring.
Op ekonomiese vlak het reaksies gewissel. Die markte het gewankel tussen hoop op deregulering en vrees vir handelskonflikte. Nywerhede soos olie, gas en konstruksie het voordeel getrek, maar die verbruikersmark het onder druk gebly. Inflasie is steeds ’n kopseer, al het Trump sy belastingverlagings weer ingestel.
Wat egter Trump se tweede termyn uniek maak, is sy benadering tot kommunikasie. Hy ignoreer tradisionele media, verkies om sy boodskap direk aan sy volgelinge te stuur deur lewendige video-strome, alternatiewe media en selfs lo-fi MAGA-klankbane. Sy ondersteuners voel ingesluit. Hulle hoor hom. Hy praat hulle taal.
Wat egter opvallend is en wat in die hoofstroommedia dikwels verswyg word is hoe Trump weer ruimte gegee het vir die Christelike geloof in die openbare sfeer. Hy het kerke en gelowiges verdedig teen owerheidsinmenging, het uitgesproke pastore aan sy sy verwelkom, en het onomwonde gesê dat die Westerse beskawing nie kan voortbestaan sonder sy Christelike ruggraat nie. In ’n tyd waarin geloof toenemend uit die openbare gesprek verban word, het Trump die reg op geloofsvryheid herbevestig.
En dit bring ons by die groter prentjie.
Trump is nie net besig om wetgewing te verander nie, hy daag ’n hele wêreldbeeld uit. Hy staan lynreg teenoor globalisme, politieke korrektheid en die elite se greep op die narratief. Waar linkse magte die internasionale gesprek oorheers het, het Trump nou vir die gewone mens, die konserwatiewe werkende klas weer ’n mikrofoon gegee. Vryheid van spraak, liefde vir land, en gesonde verstand kry weer voet aan wal. En dit is nie beperk tot Amerika nie. Sy invloed word wêreldwyd gevoel, selfs Suid-Afrika. Hy bring weer ’n mate van normaliteit terug in ’n wêreld wat in die oortuigingsstryd van ideologieë vasgevang is. Miljoene gewone mense regoor die wêreld sê dit nou hardop: “Ons voel weer of ons stem saak maak.”
Trump se eerste 100 dae was meer as net ’n begin, dit was ’n herbevestiging van sterk leierskap en ’n duidelike koers. Hy het gewys dat een vasberade man met durf en visie ’n wêreldorde kan trotseer en miljoene gewone mense weer hoop kan gee. Hy het nie teruggedeins nie, hy het nie geswig vir druk nie, en hy het nie vergeet van die mense wat vir te lank sonder ’n stem was nie. Vandag sê hulle met trots: “Dankie, meneer president. Ons voel weer of ons gehoor word.”
Lees van ons ander artiekels oor Trump.
Discover more from Vryheid Media
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
