Tuis » Pous Franciskus sterf op 88
Posted in

Pous Franciskus sterf op 88

Pous Franciskus, die eerste nie-Europese en eerste Latyns-Amerikaanse pous in die moderne tyd, is op 88-jarige ouderdom oorlede, na ’n pontifikaat wat die Katolieke Kerk diep gevorm het, en op baie maniere ook geskud het.

Gebore as Jorge Mario Bergoglio in Buenos Aires in 1936, was hy die seun van Italiaanse immigrante. Voor sy priesterroeping het hy as sekuriteitswag, skoonmaker en chemiese tegnikus gewerk, ‘n eenvoudige begin vir iemand wat sou groei tot een van die invloedrykste geestelike leiers van die 21ste eeu.

Pous Franciskus is in 2013 verkies na die ongewone bedanking van sy voorganger, Pous Benedictus XVI. Met sy eerste verskyning op die balkon van St. Pieterplein, het hy die wêreld verras deur die menigte stil te maak met die woorde: “Bid vir my.”

Hoewel talle mense hom as ’n hervormer en man van barmhartigheid onthou, is dit uiteindelik nie die geskiedenisboeke of die media wat oor sy lewe sal oordeel nie, maar God self. Want soos geskryf staan:

“Want ons almal moet voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang volgens wat hy in die liggaam gedoen het, goed of kwaad.” – 2 Korintiërs 5:10

Pous Franciskus, soos elke aardse leier sal self moet rekenskap gee van sy dade, sy nalatenskap, en sy gehoorsaamheid aan die waarheid van Christus. Dit sluit in hoe hy met die slagoffers van misbruik omgegaan het, hoe hy die Evangelie verkondig het, en of hy die Woord van God getrou bewaar het.

Sy hervormingspogings het egter nie sonder verdeeldheid gekom nie. Terwyl miljoene hom as die “Pous van die mense” beskou het, was daar ook toenemende kritiek. Sy buigsame benadering tot leerstellige waarheid, sy bevordering van intergeloofsdialoë, sy insluitende houding teenoor homoseksualiteit, en sy gereelde uitsprake oor temas soos kapitalisme, klimaatsverandering en migrasie het bygedra tot verdeeldheid binne die Kerk en groter samelewing.

In konserwatiewe Katolieke kringe, veral in die VSA en Europa, het sy leiding diep verdeeldheid en ontnugtering veroorsaak. Baie het hom daarvan beskuldig dat hy die Kerk stelselmatig van haar Bybelse en dogmatiese fondamente losgemaak het.

Met die dood van Pous Franciskus sal ’n nuwe konklave saamkom om sy opvolger te kies. Die wêreld, en veral die 1.3 miljard Katolieke sal met gespanne afwagting kyk of die volgende pous sy hervormingspad sal voortsit, of die Kerk weer sal lei na ’n meer tradisionele en doktrinale koers.

Die dood van Pous Franciskus sluit nie net ’n hoofstuk van ’n pontifikaat af nie, maar plaas die Kerk op ’n kruispad tussen hervorming en herstel, tussen wêreldse relevansie en ewige waarheid. Vir gelowiges wêreldwyd is hierdie oomblik nie net ’n kans vir herdenking nie, maar vir onderskeiding: om te vra watter pad die Kerk nou moet loop en watter evangelie sy sal verkondig.


Discover more from Vryheid Media

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Los kommentaar hier..

Discover more from Vryheid Media

Subscribe now to keep reading and get access to the full archive.

Continue reading

Discover more from Vryheid Media

Subscribe now to keep reading and get access to the full archive.

Continue reading