Tuis » Solidariteit, waarom nie `n volkstaat nie?
Posted in

Solidariteit, waarom nie `n volkstaat nie?

Daar’s iets wat nie klop nie.

Solidariteit, dié invloedryke organisasie met ’n indrukwekkende netwerk van instellings, insluitend ’n eie universiteit, vakbond en strategiese navorsingseenheid– is al geruime tyd besig om bande met die buiteland te smee, veral met die Verenigde State. Wat egter minder bekend, maar des te meer betekenisvol is, is dat Solidariteit ook gereeld in direkte kontak is met verteenwoordigers van die Amerikaanse regering self.

En dit bring ons by die kernvraag:

As Solidariteit reeds toegang het tot Amerikaanse simpatie én regeringskringe, hoekom gebruik hulle nie daardie bande om aktief saam te werk aan iets werklik betekenisvol nie? Soos die vestiging van ’n volkstaat nie? In ’n land waar ’n normale lewe vir ons mense al hoe minder moontlik lyk, is selfbeskikking nie meer net ’n ideaal nie, maar ’n noodsaaklikheid.

Solidariteit beskik oor die mense, infrastruktuur, invloed en hulpbronne om werklik groot drome aan te pak. Tog, terwyl miljoene Afrikaners toenemend voel dat hul taal, kultuur en identiteit sistematies gemarginaliseer word – en terwyl Orania daagliks bewys dat selfbestuur prakties en volhoubaar is – bly Solidariteit opvallend stil oor die een logiese en realistiese pad vorentoe.

Nie net kulturele ruimte of ekonomiese instellings nie, maar ’n volkstaat met eie regering, eie wette, eie instellings en ’n gemeenskaplike visie wat in veiligheid en vryheid kan ontwikkel. ’n Regmatige territoriale tuiste waar Afrikaners as volk weer gesag oor hul eie toekoms kan uitoefen.

Dit wil soms voorkom asof Solidariteit doelbewus poog om nie té polities te wees nie uit vrees vir liberale teenreaksie of internasionale veroordeling. Maar dan moet ’n mens vra: Wat baat dit om Amerika se hand te vat, as jy nie bereid is om saam iets werklik volhoubaar en betekenisvol te bou nie?

Die Amerikaanse geskiedenis is gesmee in die vuur van selfregering, as mens kyk na die Boston Tea Party tot die Onafhanklikheidsverklaring. Dié nasie is gebore uit ’n volk se vasberade strewe om hul eie koers te bepaal, vry van oorheersing en afhanklikheid.

Daar is waarskynlik geen nasie op aarde wat die Afrikaner se strewe na ’n eie grondgebied beter behoort te verstaan nie.

En tog, terwyl Solidariteit nou bande vorm met Amerikaanse wetgewers, konserwatiewe denkers en invloedryke instellings, gebruik hulle daardie kanale nie om ’n deeglike en moreel regverdige saak te stel vir ’n internasionaal erkende volkstaat nie.

Hoekom nie, en is dit nie nou tyd om reguit te praat nie?

Ons leef nie meer in ’n tyd waar “kulturele selfstandigheid” of “ekonomiese vryheid” op hul eie genoeg is nie. Sonder ’n eie grondgebied, sonder politieke mag en sonder internasionale erkenning, is dit alles tydelik, `n mooiverpakte illusies sonder volhoubare inhoud. As Solidariteit werklik ernstig is oor die voortbestaan van ons mense, is dit tyd om dit duidelik en sonder omhaal te sê:

Ons wil nie net aanhou bestaan nie – ons wil werklik vry wees.

Ons boodskap aan Solidariteit

Solidariteit staan op ’n kruispad. Aan die een kant is daar die pad van institusionele sukses en simboliese invloed, veilig, respekteerbaar, maar sonder politieke ruggraat. Aan die ander kant is daar die moeiliker pad van volksvryheid – riskant, ja, maar met die enigste werklike kans op oorlewing as volk.

Julle kán steun mobiliseer. Julle hét die toegang tot ons mense. Julle ken die spel en julle ken die speelveld.

As julle nie bereid is om saam te werk aan die pad na ’n volkstaat nie ten spyte van direkte toegang tot die land wat self op volkstaatbeginsels gebou is, dan moet ons eerlik vra:

Wat is julle werklike einddoel?

Want as Solidariteit dit nie doen nie, wie sal dan?


Discover more from Vryheid Media

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Los kommentaar hier..

Discover more from Vryheid Media

Subscribe now to keep reading and get access to the full archive.

Continue reading

Discover more from Vryheid Media

Subscribe now to keep reading and get access to the full archive.

Continue reading