As jy gedink het Mei is net vir koue oggende en warm sjokolade, dink weer! Hierdie maand bring die heelal vir ons ’n gratis ligskou, en jy hoef nie eers ’n kaartjie te koop nie.
Dis weer tyd vir die Eta Aquarid-meteoorreën, en glo my, dis iets om oor opgewonde te raak. Jy hoef nie eens ’n sterrekundige of “space nerd” te wees nie, as jy al ooit op ’n stoep gesit het met ’n kombers en ’n warm drankie en gewens het jy sien ’n ster val… wel, dis nou jou kans.
So, wat is Eta Aquarids?
Dis ‘n hemelse verskynsel wat elke jaar in Mei gebeur wanneer ons ou vriend, die Aarde, deur die stofspoor van Halley se Komeet beweeg. Ja, daai beroemde een wat elke paar dekades kom kuier. Maar moenie wag vir die komeet self nie, hy draai eers weer in 2061 verby. Vir nou gee hy net vir ons ’n paar sprankeltjies stof… wat teen 66 kilometer per sekonde deur die lug skiet.
Stel jou wekker! Die beste kans om iets magies te sien, is tussen 03:00 en 05:00 in die oggend. Ek weet, dis vroeg. Maar glo my, een helder meteoor wat oor die hemel flits, en jy vergeet heeltemal van die koue en moegheid.
As jy gelukkig is, kan jy tot 60 meteore per uur sien – dis byna een elke minuut! En moenie bekommerd wees nie, jy het nie ’n teleskoop nodig nie. Hierdie is teater vir die blote oog. Al wat jy nodig het, is ’n donker plek, ’n oop hemel, en dalk ’n goeie vriend… of net ’n stil oomblik vir jouself.
Waar om te gaan?
As jy buite die stad is, dan is dit bonuspunte vir jou! Die Karoo, die Cederberge, of selfs net ’n donker agterplaas in ’n stil voorstad kan die perfekte verhoog wees. Moenie jou kombers vergeet nie, en neem ’n beker koffie saam. En wie weet – dalk vat een van daardie sterre ’n wens saam hemel toe dat ons eendag weer vry sal wees… of ten minste minder belasting sal betaal. Nou’s die tyd om daai wens te maak!
Discover more from Vryheid Media
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
