President Cyril Ramaphosa het vandeesweek tydens ‘n besoek aan Nampo in die Noord-Vrystaat die groep Suid-Afrikaners wat onlangs as vlugtelinge na die VSA vertrek het, as “lafaards” beskryf. Hierdie uitlating, gemaak by die grootste landbouskou in die Suidelike Halfrond, het skokgolwe deur die Afrikaner-gemeenskap gestuur.
Ramaphosa wys elke dag meer vir ons wie hy regtig is – ‘n man wat jy nie kan vertrou nie. Hy was by Kodesa, het die grondslag gelê vir die huidige bestel en staan nou aan die voorpunt van ‘n regering wat minderhede uitmekaar skeur en hulle toekoms bedreig. Terwyl hy sy lippe roer oor eenheid en nasiebou, wys sy dade daagliks dat hy ander bedoelinge het.
Ramaphosa het gesê: “Uiteindelik is dit ‘n groep Suid-Afrikaners wat aandui dat hulle nie gunstig ingestel is teenoor die veranderinge en transformasie wat ons hier aanpak nie. Daarom hardloop hulle weg. As Suid-Afrikaners is ons veerkragtig. Ons hardloop nie weg van ons probleme nie.” Hy het op `n stip lafaards genoem.
Hierdie opmerkings kom nadat 59 Afrikaners Sondagaand ‘n vlug na die VSA gehaal het om hulle daar as vlugtelinge te hervestig – ‘n stap wat deur baie gesien word as ‘n laaste poging om aan die toenemende ekonomiese en veiligheidsdruk in Suid-Afrika te ontsnap.
Lafaard (selfstandige naamwoord)
‘n Lafaard is iemand wat bang is om gevaar of uitdaging in die gesig te staar, wat maklik skrik of terugdeins wanneer moed en durf vereis word. Dit is ‘n persoon wat nie bereid is om risiko’s te neem of moeilike besluite te maak nie, en dikwels wegskram van verantwoordelikheid of konfrontasie.
Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het Ramaphosa se uitlating ten sterkste veroordeel. Hy meen die president behoort eerder verantwoordelikheid te aanvaar vir die omstandighede wat Afrikaners dwing om die land te verlaat, eerder as om hulle te beledig. Kriel het verwys na Ramaphosa se volgehoue weiering om optrede teen geweldsoproepe soos “Kill the Boer” te veroordeel, asook sy ondersteuning van die omstrede Bela-wet en Onteieningswet.
“AfriForum respekteer die reg van mense om die land te verlaat, maar bly verbind daartoe om hard te veg teen die onregte wat teen Afrikaners en minderhede in die algemeen gepleeg word,” het Kriel gesê. “Ons ken geen ander tuiste as Afrika nie.”
Verwyt en Vervreemding
Ramaphosa se uitlatinge het wyd kritiek uitgelok en versterk die persepsie dat sy regering onverskillig staan teenoor die bekommernisse van minderhede. Hierdie kommentaar kan die verdeeldheid in die land verder verskerp, aangesien baie Afrikaners voel dat hul belange en kultuur toenemend onder druk verkeer.
Maar ten spyte van Ramaphosa se minagting, bly baie Afrikaners vasberade om te bly en te veg vir hul plek in Afrika – ‘n vasteland waar hul geskiedenis diep in die grond ingebed is, en waar hul gemeenskappe gevorm is deur generasies van harde werk, stryd en opoffering. Afrikaners is nie lafaards nie. Hulle is ‘n volk van veerkragtigheid, deursettingsvermoë en onwrikbare trots.
Vir hulle is dit nie ‘n kwessie van vlug nie, maar van oorlewing en selfrespek. Afrikaners staan nou gereed om hul toekoms self te bepaal.
Discover more from Vryheid Media
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
