Tussen ons mense is daar soveel organisasies – party groter, ander kleiner, party meer sentraal gesind, ander links en party konserwatief. Maar die realiteit is dat ons as Boere Afrikaners in ‘n heel ander konteks bestaan. Terwyl die politieke landskap in plekke soos die VSA, Duitsland, Nederland, Vlaandere en Engeland steeds heen en weer skommel tussen links en regs, liberaal en konserwatief, het daardie volke ten minste die voordeel van selfbeskikking – die reg om oor hul eie toekoms te besluit.
Ons het daardie voorreg nie. Ons is steeds onderdane van ‘n staat wat dikwels teen ons belange werk, wat die taal van ‘eenheid’ gebruik om minderhede te onderdruk en ‘n sentralistiese heerskappy in stand te hou. Maar daar is ‘n groeiende besef dat hierdie model nie volhoubaar is nie. Dis tyd om die reëls van die spel te herskryf.

Lex Libertas is ‘n nuwe organisasie, gestig deur mense wat verstaan dat politieke vryheid nie net ‘n idealistiese droom is nie, maar ‘n noodsaaklike stap om ons gemeenskap se oorlewing te verseker. Waar ander dalk op kulturele bewusmaking fokus, gaan Lex Libertas ‘n stap verder deur te pleit vir ‘n selfregerende model wat die land se kulturele en politieke diversiteit erken, maar terselfdertyd die belange van alle volke sentraal stel (as ons dit reg opsom).
Hierdie beweging se kernidees sluit in selfbeskikking, politieke outonomie en die bou van gemeenskappe wat bereid is om vir sy eie vryheid te staan. In ‘n onlangse verklaring het Lex Libertas aangekondig dat hulle op 15 Mei 2025 ‘n bekendstellingsgeleentheid in Pretoria sal hou om hul planne en doelwitte met die publiek te deel. Hierdie bekendstelling is daarop gemik om mense bymekaar te bring wat ernstig is oor selfbeskikking en politieke vryheid – nie net as ‘n ideaal nie, maar as ‘n haalbare realiteit.
Internasionale Perspektief en Verbindings
Lex Libertas verstaan dat ware politieke verandering nie net nasionaal nie, maar ook internasionaal plaasvind. Daarom sal hulle op 29 en 30 Mei 2025 as sprekers optree by die Conservative Political Action Conference (CPAC) in Boedapest, Hongarye. Dit wys duidelik dat hulle nie net ‘n plaaslike organisasie is nie, maar een wat sy visie wil uitbou tot ‘n wêreldwye beweging van vryheidsdenkers en voorstanders van selfregering.
Betrokkenheid en Samewerking
Lex Libertas het ‘n oop uitnodiging aan alle Afrikaners en ander gemeenskappe in Suid-Afrika wat selfregering en vryheid nastreef, om by hulle aan te sluit. Hulle glo dat ware selfbeskikking slegs moontlik is met die ondersteuning van ‘n breë, verenigde gemeenskap wat bereid is om in hulle eie toekoms te belê.
‘n Vraag wat ons moet vra, is tot watter mate hulle werklik selfbeskikking voorstaan. Daar is immers verskillende vlakke van selfbeskikking, en soos ons al baie kere genoem het, sal sommige vorme daarvan regtig niks vir ons beteken nie. Mens wonder ook soms wanneer gaan al hierdie organisasies begin saamwerk? Soos dit nou lyk, sal samewerking uiteindelik nodig wees om werklik deurslaggewend te wees. As ons regtig ernstig is oor selfbeskikking, sal ons die kragte moet saamsnoer om ‘n verenigde front te bou.
Vir meer inligting oor Lex Libertas en hoe om betrokke te raak, besoek hulle webwerf by https://lexlibertas.org.za/af.
Vryheid Media is ‘n onafhanklike platform wat daarop gemik is om bewustheid onder ons gemeenskap te kweek en ‘n ruimte te skep vir vrye denke en oop debat. Ons assosieer nie noodwendig met enige spesifieke organisasie of politieke beweging nie, maar bied ‘n stem aan diverse idees ter versterking van ons volk se bewusmaking oor selfbeskikking en die toekoms.
Discover more from Vryheid Media
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
