Tuis » Die eerste brief aan my volk
Posted in

Die eerste brief aan my volk

Volksgenote, daar kom soms ’n tyd wanneer ons leiding moet inneem. Eerstens vir ons God en geloof, ons families, ons kultuur, ons taal en uiteindelik vir ons voortbestaan.

Nou, die dissipels gedurende die tyd van Jesus het ook leiding geneem en gedoen soos Jesus (hulle Leermeester) hulle aangesê het: om die Woord van God oor die hele aarde te verkondig, sodat elke volk kan leer om alles te onderhou wat Hy aan sy dissipels beveel het, om dissipels van die nasies te maak, sodat hulle ook kan onderhou wat Hy sy dissipels geleer het (Matteus 28:18–20).

Soos Jesus sy dissipels gehad het, moet ons ook besef dat ONS VOLK dissipels nodig het. Wat die dissipels vir ons gewys het, is dat ware leiding nie altyd in mag en oorvloed lê nie, maar in gehoorsaamheid, opoffering en geloof. Hulle het nie gewag vir maklike tye nie, maar het opgestaan in moeilike tye. Hulle het nie stilgebly toe onreg gedy nie, maar het gepreek, gelei en gely, want hulle het geweet dat die waarheid van God sterker is as die vrees van mense.

Vandag is daar baie mense wat teenkantig is teen Israel en die Joodse volk. Maar as ons die Joodse volk as voorbeeld neem, moet ons bewonder hoe God hulle deur die eeue heen beskerm het. Hulle as volk is verwoes, vervolg, en telkens die teiken van uitwissing, tog het hulle keer-na-keer weer opgestaan. Maar een ding het God belowe: dat hulle eendag sou terugkeer na Israel en dit weer hul tuiste sou maak.

Al het hulle vir byna 2000 jaar geen fisiese tuiste gehad nie, het hulle hul geloof behou, hul taal behou, hul kultuur behou en volhard in die geloof dat God hulle sou beskerm en weer na hul vaderland, Israel, sou bring, en dit het inderdaad gebeur. Die Egiptiese farao’s (1300 v.C.), Babiloniërs (586 v.C.), Persiese Ryk (480 v.C.), Grieke (200 v.C.), Romeine (70 n.C.), Middeleeuse Europa (11de–18de eeu), Nazi-Duitsland (1933–1945), die Sesdae-oorlog (1967) en selfs vandag, almal het probeer om die klein Joodse volk uit te wis, maar kon nie daarin slaag nie. Dit is die krag van ons Vader.

Ons eie volk het te lank op mense vertrou eerder as op die Here. Ons het te lank gewag dat ander vir ons rigting gee. Dis tyd dat ons weer opstaan soos die dissipels in moeilike tye, nie in trots nie, maar in nederige gehoorsaamheid aan God, vir ONS eie mense en met geloof in ons harte dat daar ook weer `n tuiste vir ons sal wees.

As ons eerlik na onsself kyk, moet ons besef dat ons as volk ver van ons God af beweeg het. Ja, daar sal dié wees wat sê dit is nie so nie, en dit is ook waar want hulle het dalk nie genesing nodig nie. Maar wat Jesus vir ons duidelik gemaak het, is:

En toe Jesus dit hoor, sê Hy vir hulle: Die gesondes het nie ’n geneesheer nodig nie, maar die siekes. Ek het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars tot bekering.”
Markus 2:17

Die “siekes” onder ons volk is nie mense met siekte nie, maar dié wat geestelik van ons Hemelse Vader wegbeweeg het, juis in ’n tyd waar ons Hom die meeste nodig het.

Ons as volk moet erken dat ons eerstens weer ons Hemelse Vader moet vind, en tweedens dié moet help wat ook hulp nodig het om weer op die regte pad te kom. Ons moet nie net na onsself kyk nie, maar ook na almal wat worstel om weer hul plek te vind in ons huidige omstandighede, sodat ons uiteindelik ons ware vryheid kan herwin. Met vasberadenheid kan volhard in ons geloof, taal en kultuur, en werk aan ons vryheid soos die Jode dit al vir duisende jare doen.

Maar meer as dit: ons moet dissipels vir ons eie volk wees, mense wat nie net praat oor verandering nie, maar wat dit leef. Ons moet die lig wees vir dié wat in duisternis loop, die stem vir dié wat stil geraak het, en die geloofsdraers wat wys dat hoop nie verlore is nie. Want as ons nie bereid is om vir ons eie volk dissipels te wees nie, wie sal wees?

Ons volk, die Boere-Afrikaner volk, sal weer opstaan maar dié keer nie met ons rug na God gedraai nie, maar met Sy hulp en guns aan ons kant. En met daardie geloof sal ons weer seëvier.

“As die Here die huis nie bou nie, tevergeefs werk die wat daaraan bou.”
Psalm 127:1

Geseënde groete,


Discover more from Vryheid Media

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Los kommentaar hier..

Discover more from Vryheid Media

Subscribe now to keep reading and get access to the full archive.

Continue reading

Discover more from Vryheid Media

Subscribe now to keep reading and get access to the full archive.

Continue reading