Tuis » Tweede brief aan my volk – Die gestraf van ’n volk.
Posted in

Tweede brief aan my volk – Die gestraf van ’n volk.

My geliefde volk,

Ons bevind ons vandag in ’n situasie wat voel asof dit buite ons beheer staan. ’n Land onder die heerskappy van onbevoegde leiers, instellings en infrastruktuur wat letterlik voor ons oë verbrokkel, ’n samelewing waarin misdaad, korrupsie en chaos hand aan hand loop. Ons sit soos gevangenes in ons eie huise, ons kyk oor ons skouers wanneer ons êrens heen gaan, en ons vertroue op `n blink toekoms het feitlik tot nul gedaal.

Ons historiese aandeel in Suid-Afrika word voortdurend ondermyn, ons erfenis afgelas, ons bydraes as iets van die geskiedenis afgemaak. Ons jongmense voel losgeskeur, ons ouer geslag voel vergete, en die land waarby ons gesweer het, voel elke dag meer onbekend as vroeër.

’n Ekonomie wat kreun, skole wat verval, ’n gesondheidstelsel wat verwoes is, plase wat brand, en gemeenskappe wat hul identiteit probeer vasgryp te midde van ’n wêreld wat hul nie meer erken nie.

En so ontstaan die vraag?

Is dit dat God ons dalk nou straf, of is dit dat Hy ons iets wil leer?

As volk het ons baie bereik. Meer as wat baie wêreldvolke ooit sal verstaan. Ons het stede gebou in velde, paaie en tonnels oor berge gelê, wêreldklas infrastruktuur ontwerp, en ’n land opgebou waarop ons met reg trots kon wees.

Maar trots het stil-stil in ons harte begin plek maak. Wanneer jy terugdink, hoeveel gesprekke het jy al gehoor oor:

“dis die grootste hoofweg in Afrika” , “ons het die beste stadions in die wêreld,”, “ons ingenieurs is die beste,” “ons kan alles self doen,” “ons het niemand nodig nie.”

En daar lê die knoop:  Ons het God vergeet.

Ons het onsself bo Hom gesit. Ons het gedink ons eie hande bou ’n volk. Ons het vergeet dat die Here daardie hande gemaak het.

 Wat sê die Here oor trots?

Die Woord is duidelik en skerp:

Trots kom voor die ondergang, hoogmoed kom voor die val.”
 
Spreuke 16:18

God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade.”
 
Jakobus 4:6

God straf ons nie om ons te vernietig nie, maar om ons wakker te maak. Trots maak ’n mens doof vir God en blind vir mekaar. En presies dit het met ons gebeur.

 Is God klaar met ons?

My volk, ons staan op ’n draaipunt in ons geskiedenis. Nie een van ons kan voorgee dat hierdie paaie maklik is nie. Die tekens van verval en verstrooiing lê oral rondom ons. Maar die Here laat nooit ’n volk aan wie Hy ’n roeping gegee het, net wegdryf sonder om hulle eers terug te roep nie.

Ons huidige stryd is nie net politieke mislukking of ekonomiese verval nie, dit is ’n geestelike wekroep.

Die Here herinner ons dat volkere nie val omdat hul vyande te sterk is nie, maar omdat hul harte te hard word. Hy bring ons nie tot ons knieë om ons te vernietig nie, maar om ons te herlei. Om ons weer te herinner aan Wie die bron van ons krag, ons erfenis en ons toekoms is.

As ons weer klein genoeg word om te luister, nederig genoeg om te gehoorsaam, en eensgesind genoeg om mekaar te dra, kan die Here ’n volk wat gebroke staan, weer ophef. Want ’n volk wat voor God buig, hoef nooit voor mense te buig nie.

Laat hierdie dae vir ons ’n omdraai wees, weg van trots, weg van selfverheffing, weg van verdeeldheid, en terug na die Here. Hy wat ons dra, Hy wat ons vorm, Hy wat ons toekoms vas hou wanneer alles rondom ons wankel.

Mag ons weer ’n volk word wat God eer, mekaar dien, en ons hande lig vir iets groter as onsself. Want waar die Here die fondament is, kan geen regering, krisis of donker tyd ooit die huis breek nie.

Ons het afgedwaal, maar ons kan terugkeer.

En as ons terugkeer, sal die Here ons weer herstel maar die keer met die trots in Hom, in plaas van onsself.

Groete

Vryheid Media


Discover more from Vryheid Media

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

One thought on “Tweede brief aan my volk – Die gestraf van ’n volk.

Los kommentaar hier..

Discover more from Vryheid Media

Subscribe now to keep reading and get access to the full archive.

Continue reading

Discover more from Vryheid Media

Subscribe now to keep reading and get access to the full archive.

Continue reading