Tuis » ’n Verlore skat in Pretoria: Die verlate Staatsmuseum op Boomstraat
Posted in

’n Verlore skat in Pretoria: Die verlate Staatsmuseum op Boomstraat

In die hart van Pretoria se middestad, op Boomstraat binne die terrein van die Nasionale Dieretuin, staan ’n eens trotse kultuurbaken vandag stil en verlate. Die voormalige Natuur- en Kultuurhistoriese Museum beter bekend as die Staatsmuseum was vir meer as ’n eeu ’n spilpunt van nasionale geskiedenis, wetenskap en erfenis. Nou bly daar net ’n vergete gebou oor, stadig oorgegee aan verval, en aan mense wat dit nie goed ag om erfenis te bewaar nie.

Die stigting van die Staatsmuseum in 1892 deur dr. W. J. Leyds, destyds Staatssekretaris van die Zuid-Afrikaansche Republiek, was ’n belangrike mylpaal. Hy is later deur die museumraad as die “Vader van die Staatsmuseum” beskryf. Die doel was duidelik en ambisieus: om ’n ware nasionale museum te vestig wat die natuurlike rykdom, kuns en oudhede van Suid-Afrika en selfs die wêreld sou bewaar.

Aanvanklik het die versameling hoofsaaklik op kulturele artefakte gekonsentreer, maar die fokus het spoedig na die wyer nasionale geskiedenis uitgebrei. Die eerste tuiste was ’n klein vertrek langs die kloktoring in die Raadsaal op Kerkplein, ’n nederige begin vir wat later tot ’n monumentale instelling sou ontwikkel.

Namate die versamelings gegroei het, het die museum in 1894 na ’n gebou by die varsprodukte-mark verskuif, vandag se Sammy Marksplein. Ook dié ruimte het gou te klein geword. Teen 1898 is tenders uitgereik vir ’n nuwe, volwaardige museumgebou op die hoek van Boom- en Andriesstraat.

Die hoeksteen is in Julie 1899 gelê, maar die uitbreek van die Tweede Vryheidsoorlog (Boere-oorlog) in Oktober dieselfde jaar het die bouwerk ontwrig. Toe Britse magte Pretoria in Junie 1900 inneem, het die gebou reeds dakhoogte bereik. Ná die oorlog is bouwerk hervat en teen Desember 1904 is die indrukwekkende museum voltooi.

Bron: Geneem vanuit Google Maps

Die instelling is later herdoop tot die Transvaal Museum en het oor die daaropvolgende dekades een van die belangrikste historiese en etnografiese versamelings in die land gehuisves.

’n Tydperk van kulturele rykdom

Teen 1930 het die museum reeds indrukwekkende historiese, argeologiese en etnografiese versamelings vertoon, grootliks verryk deur skenkings van privaat weldoeners, wie se name volgens die gebruik by die uitstallings aangedui is. Van die merkwaardigste toevoegings was die Louis Botha-versameling (1922), asook ’n omvattende Voortrekker-kultuuruitstalling wat tydens die Van Riebeeck-fees van 1952 aangebied is.

In 1972 is ’n omvangryke Anglo-Boereoorlog-versameling bygevoeg, en in 1989 het die Nasionale Kultuurhistoriese Museum sy silwerjubileum gevier. Dit het gelyk asof die instelling se toekoms verseker was.

Van juweel tot vergetelheid

Die verval het egter vinnig ingetree. In 1991 is die museum as hoofkantoor ontruim en gesluit. ’n Gebarste pyp het dieselfde jaar groot skade aan uitstallings in die oostelike vleuel veroorsaak, gevolg deur nóg ’n waterlek in 1992 wat onherstelbare skade aangerig het. Die museum moes sy deure vir die publiek sluit, hierdie keer permanent.

Vandag kan spore van die ou versamelings en vertoonkaste steeds in die verlate gebou gevind word, wat intussen as ’n Nasionale Monument verklaar is. Tog staan dit leeg en verlate, ’n stille getuienis van ’n eens trotse erfenisinstituut.

Die verhaal van die Staatsmuseum op Boomstraat is meer as net `n bietjie geskiedenis oor ’n gebou; dit is ’n waarskuwing oor wat gebeur wanneer ’n volk sy erfenis aan nalatigheid afstaan. Waar daar eens doelbewus gebou is om die geskiedenis, prestasies en identiteit van ’n volk te bewaar, staan vandag slegs ’n leë dop, ontneem van inhoud en simboliek. Vir diegene wat steeds glo aan kulturele selfbeskikking en die bewaring van ons geskiedenis, behoort hierdie verlate museum nie net hartseer te wek nie, maar ook ’n nuwe vasberadenheid.

Erfenis wat nie beskerm word nie, word uiteindelik verloor, maar erfenis wat weer opgeraap en gekoester word, kan ’n volk se toekoms help vorm.

Kyk gerus na die skokkende fotos by Daily Investor onder aan hul artikel. Die konsep vir hierdie artikel is vanaf hul platform geïnspireer, aangesien dit sterk aansluit by die temas en fokuspunte waaroor ons gewoonlik berig.


Discover more from Vryheid Media

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

2 thoughts on “’n Verlore skat in Pretoria: Die verlate Staatsmuseum op Boomstraat

  1. My mening in alle nederigheid en groot respek aan ñ vergane volk met ñ vergane identiteit – kom ons kry ons eerstens uit onder die barbaarse volk, ons vyand en afbrrkers van al ons kultuurskatte en alles anders wat kosbaar vir ons Boervolk is, kry weer selfbeskikking sodat ons weer instaat kan wees om te beskerm wat eie is

    Groetnis

Los kommentaar hier..

Discover more from Vryheid Media

Subscribe now to keep reading and get access to the full archive.

Continue reading

Discover more from Vryheid Media

Subscribe now to keep reading and get access to the full archive.

Continue reading